Brief aan die redakteur

'n Brief aan die redakteur deur J. J. McCarthy, wat daarop aandring dat sy brief aan die Dublin Builder geplaas word, waarop 'n opmerking gemaak is in die Freeman's Journal, en die kommentaar van die redakteur, John Gray. Dis geplaas op bl. 3 van die Freeman's Journal van 28 Januarie 1863.

'n Brief aan die redakteur[1] is 'n brief wat 'n leser aan 'n koerant of tydskrif stuur oor kwessies wat die publikasie se lesers aangaan. Sulke briewe is gewoonlik bedoel vir publikasie. In baie publikasies kan briewe aan die redakteur deur gewone pos, per faks of per e-pos aangestuur word, en deesdae ook per SMS of kitsboodskap.

Briewe aan die redakteur word gewoonlik vereenselwig met briewe aan koerante en nuustydskrifte, maar hulle word ook aan ander tydskrifte (soos vermaak- en tegniese tydskrifte) en radio- en televisiestasies gestuur. Wat laasgenoemde betref, kan sulke briewe soms regstreeks oor die radio of TV gelees word, gewoonlik in 'n nuusprogram of 'n kletsradioprogram. In dié geval kan daar ook gepraat word van kykerbriewe of luisteraarbriewe, afhangend van die medium.

In die akademiese uitgewersbedryf is briewe aan die redakteur van 'n akademiese joernaal gewoonlik 'n oop resensie nadat die vorige publikasie verskyn het, dikwels krities oor sekere aspekte van daardie uitgawe. Die skrywers van die oorspronklike stukke reageer soms met hul eie briewe. Omstrede referate in hoofstroomjoernale lok dikwels etlike briewe aan die redakteur uit. 'n Deeglike aanhalingsindeks gee 'n lys van die oorspronklike referate saam met al die reaksies daarop. Afhangend van die lengte van die brief en die joernaal se styl, kan ander soort opskrifte gebruik word soos "Portuurkommentaar". Daar is 'n paar variasies op dié gebruik. Party joernale vereis altyd kommentare ook, wat dan saam met die oorspronklike referaat geplaas word, in 'n proses wat "oop portuurkommentaar" genoem word. In die geval waar joernale eers elektronies uitgegee word, kan briewe aan die redakteur wat nie versoek is nie, asook die skrywer se antwoord, gelyktydig in die gedrukte weergawe verskyn, solank hulle gestuur word in die tydperk tussen die elektroniese publikasie en sy verskyning in druk.

  1. http://uwp.duke.edu/wstudio/resources/documents/letter_to_editor.pdf.

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Tubidy